Op die ingewing van die oomblik

Om met ’n impulsiewe man getroud te gewees is, was vir my as jong getroude soms moeilik om te aanvaar. Ek het uit ’n huis gekom waar niks op die ingewing van die oomblik gedoen is nie; alles is eers goed bespreek en daarna sorgvuldig beplan.

My ou beste kon egter maklik op ’n Sondagoggend vroeg wakker word en solank die kar begin pak terwyl ek met die kinders raas om klaar te maak. Hy was reg om iewers ’n vleisie te gaan braai vir middagete. Hy self het nog nie geweet waar nie, maar sou ry waar die pad ons daardie dag vat. As die kinders gevra het waar ons heen gaan, het hy geantwoord: “Ons sal maar sien.”

Sodra die kinders klaar ontbyt geëet het, het Klipman buite toe gestap, op sy hand gespoeg, met sy vinger daarin geslaan en dan die kar se neus in die rigting gestuur waarheen die spoeg geval het. Die kinders het onderlangs gebrom want hulle wou nog langer geslaap het of graag iets anders gedoen het. Maar ons het almal geweet: Klipman het gepraat en die roosterbroodjies en slaaibenodigdhede moes in die kattebak gelaai word want ry gaan ons ry. Die seuns het gou-gou ook opgewonde geraak oor die ryery want hulle het nie omgegee om op ’n ontdekkingstog te gaan nie. Maar my dogter was ’n ander saak: sy het verkies om met haar neus in ’n boek te sit.

Het hy besluit ons gaan Hennopsrivier se kant toe, was die kinders bly want dit sou beteken hulle kon in die rivier swem of in die rantjies gaan rondklim op soek na kristalle. Daarvan het hulle altyd handevol huis toe gebring.

Later jare was ons bevoorreg om vir die dag wildtuin, God’s window, Burke’s Luck en plekke in die (vorige) Oos-Transvaal te besoek op die ingewing van die oomblik. Vir die seuns was elke uitstappie ’n avontuur maar almal moes my dogter eers pamperlang om haar te oortuig om die uittog mee te maak.

Nou kan ek net terugverlang na daardie impulsiewe uitstappies, maar tog bly dit heerlike herinneringe wat ek sorgvuldig in my onthouhoekie in my kop bêre.

This entry was posted in Familie, Herinneringe, Kinders and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s