Demensie

Daar gaan nog ’n skoot af. Ek wonder wie is nou geskiet. Zuma is alreeds dood. Ek wag nog net op die aankondiging op die TV. As ek net nie aan hierdie bed vas was nie, kon ek dalk nou gaan help het. Nou ja, ek wag maar.

Wie loop nou al weer hier by my kamer verby? Hulle spioeneer almal op my, seker omdat hulle jaloers is dat dit so goed gaan met my. My seun en dogter is hoeka bekende politici – hulle wil natuurlik agterkom wat ons vir die nuwe verkiesing beplan. Maar hulle moenie dink ek is so dom dat ek enige geheime sal weggee nie. Ek praat net daaroor met my kinders.

Mnr Wasserfall lê oorkant my. Hy het gedink niemand sal uitvind dat hy so hoereer nie, maar dit het hom nou ingehaal. Dis sy verdiende loon dat hy AIDS het; hy het my kleinseun mos probeer inloop met daardie saketransaksie. Maar dink jy hy het sy les geleer? Nee, elke aand laat hy nog een van die verpleegsters saam met hom in die bed slaap. Hy dink ek sien dit nie, maar niks gaan by my verby nie. Net omdat ek nie kan loop nie, beteken dit nie dat ek nie kan sien wat om my aangaan nie.

Daar is al weer ’n skoot. Agge nee, dis my kleinseun! Waarom op aarde het hulle hom doodgeskiet? En ek sal nie eers by sy begrafnis kan wees nie; ek lê hier omdat hierdie spioene my vergiftig het. Ek kan nou glad nie eers meer eet nie. Hulle kom mos in die kamer in wanneer hulle dink ek slaap en spuit dan goed in my drup in. Ek weet nie watter gif hulle ingespuit het nie, maar ek kan glad nie meer loop nie.

Wie kruip daar in die badkamer weg? “Kom uit daar, moenie dink ek het nie gesien toe jy ingegaan het nie!” O ja, dis my ou man. Hy wil my seker kom verras. Ek moet hom net waarsku dat die kinders nou-nou vir my gaan kom kuier. Hulle dink mos hulle kon hom vir my wegsteek, maar hy het hierheen gekom om seker te maak dat alles met my goedgaan.

Ek is so siek en sat om die vet verpleegsters te sien. Hulle moet nou dadelik op daardie kursus verslankingspille wat ek verkoop gaan. Dis ’n duidelike teken dat die bestuur van hierdie hospitaal geheel en al swak is: hoe kan hulle sulke oorgewig mense hier aanstel. Ek weet my skoondogter is ook nie te klein nie, maar as sy vir hulle vertel hoe baie gewig sy verloor het op die pille sal dit net ’n witleuentjie wees. Dit is immers vir ’n goeie doel. Hoe kan die verpleegsters mense versorg as hulle self nie gesond is nie?

Hier kom een van hulle met ’n groot spuitnaald. Sy het sowaar weer iets in my drup ingespuit. Hierdie keer is dit AIDS. Hulle dink natuurlik dat hulle hiermee gaan wegkom want as ek dood is, sal niemand dink dis van die AIDS nie, net maar nog ’n oumens wat dood is.

Hierdie boonste gedeelte het ek geskryf in antwoord op Maanklip se vraag of mense wat aan Alzheimers ly, weet wat om hulle aangaan. Dit wat ek geskryf het, het ek ervaar toe ek  aan die begin van die jaar baie siek was. Die dokter het my met vaskulêre demensie gediagnoseer en ek het klaarblyklik al die simptome openbaar. Vaskulêre demensie word aan verkalking van die are toegeskryf – iets wat my kinders aanvaar het omdat die dokter al vir jare my op my verkalking attent maak. Alhoewel hulle nie kon glo dat so iets oornag kon gebeur nie (want demensie vind gewoonlik oor ’n tydperk plaas) was daar geen ander verklaring vir my optrede nie.

Baie van dit wat gebeur het, het ek vergeet maar stukkies en brokkies daarvan kom soms in my geheue op. Wanneer ek dit dan aan my dogter noem, sê sy dat dit alles was wat ek gesê en gedoen het terwyl ek siek was.

So het ek byvoorbeeld, nog voordat ek in die hospitaal was en voordat my dogter besef het dat iets verkeerd was, my kaste reggepak en meeste van die goed vir ander mense present gegee. Wanneer ek nou na iets vra, sê my dogter dat ek dit vir Sus-en-so gegee het, maar ek kan niks daarvan onthou nie.

Ek het nog lank met sommige van die versinsels saamgeleef. Byvoorbeeld, dat Zuma en my kleinseun dood is. Dit was so werklik in my gedagtes dat ek, nadat ek herstel het, nog ’n maand of wat so geglo het, selfs nadat ek my kleinseun in lewende lywe gesien het. In daardie tyd was ek ook baie kwaad vir my kinders omdat hulle my man van my af weggehou het. Maar ek kon nie verstaan dat hy alreeds 10 jaar gelede oorlede is nie. Mense wat by my kamer verbygeloop het, was soos geeste vir my en ek was baie bang in die nag omdat sommige van hulle in my kamer ingekom het.

Daarom besef ek nou dat mense wat aan Alzheimers op ’n gevorderde stadium ly, waarskynlik ook met dieselfde onsekerhede en halwe waarhede leef. Dat elke dag vir hulle weer ’n vreemde ervaring is en die mense rondom hulle elke dag, en soms van oomblik tot oomblik, vreemdelinge is. Die wêreld moet baie vyandig vir hulle wees en meeste van die tyd kan hulle dit nie eens verwoord nie. Die ergste van alles vir ons wat buite staan, is dat die toestand met tyd al hoe erger word, nie net vir die buitestaander nie, maar ook vir die lyer self want hulle verstaan al hoe minder van die wêreld om hulle.

Ek is dankbaar dat ek herstel het maar soms voel ek nog daardie onsekerheid; seker ’n oorblyfsel van die siekte.

This entry was posted in Dokters, Geheue, Gestremdheid, Oudword, Vrese and tagged , , , . Bookmark the permalink.

6 Responses to Demensie

  1. seegogga sê:

    sjoe! Dis erg! Hoe het dit gekom dat jy herstel het en nie meer daaraan ly nie? Of was dit ‘n ander siekte wat die simptome van Vaskulere dimensie getoon het? Vertel asb meer, Klippie!

  2. MaanKind sê:

    Baie dankie Klippie! Ek is bly day jy gesond geword het om hierdie te kon skryf. DIs so min wat mens regtig so ‘n ervaring uit ‘n ouer persoon se mond (of pen! Of eintlik sleutelbord…) kan hoor. Ek waardeer jou moeite en tyd! XX (Ek het jou e-pos adres verloor. Wil jy nie asb vir my skryf by trisa@icon.co.za dat ek dit weer het nie?)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s