Kolwyntjies

Nou die dag was dit kolwyntjiedag. Maar min mense weet eintlik wat kolwyntjies is; hulle praat eerder van cup cakes. Maar vir my is “kolwyntjie” ’n pragtige word wat herinner aan my kinderdae. Toe sou ons nie weet wat ’n cup cake is nie en sou seker gedink het dis koek wat mens in ’n porseleinkoppie bak.

Om kolwyntjies te bak is maklik en ’n goeie manier om jou peuter op ’n reënerige dag besig te hou. Ma slaan gou-gou ’n baksel deeg aan waaraan die peuter ook kan deelneem en weg is die trane. En hy kan die deegbak ook na die tyd uitlek – altyd lekker vir die kleingoed.

Kolwyntjies kom deesdae in verskeie groottes en temas: Is dit ’n meisie wat verjaar, word die koekies versier met pienk blomme, vlinders en allerhande blinkertjies of miskien Harry Potter-prentjies. Hoe veelkleuriger die blomme en bytjies op die klein juffroutjie se kolwyntjies, hoe gelukkiger is sy. As ’n seuntjie verjaar, is die versierings eindeloos: Batman, Superman, karre, treine.

Daar is altyd ruimte vir meer versierings en temas. Op Halloween kan mens grafsteen-kolwyntjies bedien of, waarvan kinders natuurlik baie hou, “gory” goed soos oogballe, breine en skelette.

Baie bruide kies deesdae ook troukoeke wat uit ‘n groot aantal kolwyntjies bestaan. Vir my as ou mens klink dit nie reg nie. Gee my eerder ’n stuk vrugtekoek soos van ouds. Toe ons nog rooi hakskene gehad het, het ons al te graag ’n stukkie troukoek onder ons kopkussing gesit want ons sou dan kwansuis droom van jou eie ridder met wie jy eendag sou trou. Alles natuurlik net stories, want nie ek of een van my vele susters het in ons drome die mans met wie ons uiteindelik getrou het raakgesien nie.

Een voordeel van kolwyntjies is natuurlik dat jy die papierhouertjie sommer in die kinders se hande kan stop; geen bordjies of vurkies nie en baie minder skottelgoed.

Ek is glad nie lief vir koek nie; daarom trek geen kolwyntjie my nie, veral nie enigiets met ’n sjokoladegeur nie. Gee my eerder kleinkoekies (beskuitjies). Ek sal dit sommer vir ontbyt eet, veral as dit gemmerkoekies is. En as jong vrou het ek blikke vol gebak waaraan my seuns en hulle maats heerlik gesmul het.

Nee wat, kolwyntjiedag is vir my net nog ’n foefie, een waaruit die winkelier en niemand anders nie, voordeel trek.

This entry was posted in Gewoontes, Kos and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s