Oktober

Volgens C Louis Leipoldt is Oktober die mooiste, mooiste maand. En wanneer ek deur my kamervensters kyk, moet ek nogal met hom saamstem. Eintlik dink ek dat die stelling nie eintlik reg laat geskied aan die natuur wat ek nou aanskou nie: die bome hier wedywer met mekaar om hulle blommeprag ten toon te stel. Die jong groen blare skep ’n mooi kontras om die kleure nog beter te laat vertoon. Die Groot Kunstenaar se hand het kwistig met die kleure gewerk wat net deur ’n meester gemeng kon word.

Die pers blomme van die paar jakarandas in die omgewing (want dis eintlik ’n ongewenste boom) lyk pragtig teen die blou lug. Die Tibouchinas is vol in die blom, hulle tweede keer vir die jaar. Hulle lyk net so pragtig in die herfs maar nou kompeteer hulle met die pers van die jakarandas, die geel van die kassias en die rooi van die bottelborsels.

Hier by ons plant baie mense die verbleikblom (yesterday, today and tomorrow) as ’n heining aan. Saans hang die geur van die blomme swaar in die lug, maar mens kan nooit genoeg daarvan kry nie. Dan is daar ook die jasmyn met sy eie geur. Die azaleas is nog steeds plek-plek in die blom: rooi, wit, pers, koraal en pienk.

Die klimaat laat nie eintlik toe vir vrugtebome nie, so perskebloeisels is maar skaars, maar gelukkig bot die lemoene. Die geur van die lemoenbloeisels laat my altyd aan troues dink. Seker omdat bruide vroeër jare graag kransies van die bloeisels vir hulle hare gemaak het.

Dan is daar die kleiner plante in die tuin wat ook sonder sukkel nou vol in die blom is: varkore, clivias, amaryllis en natalpruime.

Vir ons het die reënseisoen aangebreek en word twee dae van sonskyn gewoonlik gevolg met vyf dae van reën. Maar ons kla nie want die wêreld om ons bly pragtig en groen. Ongelukkig gaan die reën ook baie keer gepaard met donderstorms. Ek is steeds na al die jare maar skrikkerig vir die blitse en donderslae. Maar die donkerblou donderwolke met die weerlig wat daardeur klief bly ’n indrukwekkende gesig.

Ek stem waarlik met Leipoldt saam as hy sê:

Dit is die maand Oktober: ek dink, die mense vier
Vir ewig in die hemel Oktobermaand soos hier!
Wat wens jy meer as blomme, as helder dag en nag?
Wat kan jy beter, mooier, of heerliker verwag?

This entry was posted in Natuur and tagged , , , . Bookmark the permalink.

One Response to Oktober

  1. Tienky sê:

    Ek stem saam jou daar Niks mooier as die prag kleur van blomme wat ons omgewing so verhelder.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s