Dissipline

Ek hoor oor die radio dat daar baie argumente oor die toediening van dissipline vir kinders is na al die onenighede wat daar by skole tussen onderwysers en leerlinge is.

Vir my begin dissipline by die huis. Daarom moet ma en pa ooreenkom oor wat die reëls is en konsekwent daarvolgens handel. Baie ouers is egter ongelukkig in hulle huwelike en dan moet die kinders dit ontgeld. Soms bederf een van die ouers die kinders verskriklik deur hulle alles toe te laat en alles wat hulle wil hê vir die kinders te gee en die ander ouer laat dit om vredesonthalwe toe. Dit moet ’n uitwerking hê op die manier waarop die kind dan in die openbaar en by die skool optree.

Natuurlik is ek ongelukkig oor die feit dat so baie kinders uit gebroke huise kom. Daarom is ek van mening dat dissipline hier nog meer agterweë bly. Geskeide ouers het nie altyd dieselfde maatstaf wanneer dit kom by hoeveel kinders toegelaat kan word nie. Ma het ’n stel reëls waarby die kinders moet hou en dan kom Pa en hy het soms nie sulke streng reëls nie (of andersom natuurlik). Die kinders word dan toegelaat om later te gaan slaap, langer uit te bly, rekenaarspeletjies te speel en net gemorskos te eet. Ek weet ek veralgemeen nou, en daar is geskeide ouers wat met mekaar kommunikeer oor die reëls maar ek meen die oorgrote meerderheid van geskeide ouers praat nie juis met mekaar nie.

Dan is daar stiefouers met hulle eie kroos wat weer aan ander reëls gewoond is. Die ouer en stiefouer kom dan ooreen oor die optrede in hulle huis en die kind wat net in die week of oor naweke daar is, moet daarby aanpas. In elk geval, alle kinders vat kanse. Wie van julle kan nie onthou dat julle soms vir julle ma iets gevra het en wanneer sy nee gesê het, gehoop julle kan by julle pa verbykom nie?

So trek die kind altyd aan die kortste end. Hy moet in albei sy ouers se goeie boekies bly. Dink net hoe jy sou reageer as daar uit twee monde gepraat word. Die kind word in baie gevalle as speelbal gebruik. Soms kraak die een ouer die ander so af dat die kind nie weet hoekom hy lojaal is teenoor daardie ouer nie.

Wanneer kinders tieners word, is daar alreeds so baie dinge om te hanteer: fisies en psigies. Nou kom huislike probleme daarby en niemand kan hom verkwalik as hy verward voel en nie altyd weet hoe om op te tree nie.

Daardie kind wat die onderwyser vloek of slaan, of soos nou die dag in die nuus was, aanrand, weet nie altyd hoekom hy so optree nie. Baie kinders het diep binne-in seer maar hulle ouers is so besig om te werk, ’n nuwe lewensmaat te soek of met die nuwe lewensmaat se kinders oor die weg te probeer kom dat die ongelukkige kind nêrens ’n uitlaatklep het nie. Dink maar net wat dit aan ’n kind se selfbeeld doen. Ek probeer nie die kinders se optrede verskoon nie, maar miskien is daar versagtende omstandighede wat nie altyd na behore gelug word nie.

This entry was posted in Geweld, Kinders, Skooldae and tagged , , , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s