Eensaamheid

Daar word beweer dat eensaamheid die grootste bron van emosionele probleme en selfs selfdood is. Ek is nie ’n sielkundige of kenner op die gebied nie, maar deur die jare het ek baie geleer deur na mense te luister en te lees. Wat ek besef is dat eensaamheid die gevolg eerder as die oorsaak van probleme in ’n mens se lewe is. En eensaamheid is natuurlik nie om alleen te wees nie; dis ’n gevoel van isolasie en leegheid en verlange na iets wat jy nie kan beskryf nie.

Een ding wat eensaamheid tot gevolg kan hê, is egskeiding, veral wanneer mense na ’n klompie jare skei en of die man of die vrou daarna deur ’n erge gevoel van verwerping en gepaardgaande eensaamheid moet worstel. Baie van die geskeide mense moet hulle eensaamheid verwerk en vind dan vertroosting in een of ander verslawing: alkohol, dwelms, pornografie. Ek weet selfs van mense wat maande net voor die TV geleef het; daar gesit, geëet, geslaap, net om te ontvlug van die gevoel van eensaamheid.

In sommige huisgesinne is daar swak kommunikasie en daarom voel ’n kind dalk dat hy nie in die kring van die huisgesin hoort nie. So ’n kind kan dalk iets drasties of onbesonne doen as ’n kreet om hulp, soos om ’n oordosis pille te drink.

As mens die koerant oopslaan, is daar baie keer ’n berig oor een of ander bekende persoon wat nie verder kon nie en daarom maar die selfdood-uitweg gekies het. Wanneer mens dan tussen die lyne lees, lyk dit asof die persoon ten spyte van sy of haar bekendheid baie eensaam gevoel het.

Dan is daar mense wat nie oor hulle gevoelens kan praat nie of nie maklik vriende maak nie wat eensaam deur die lewe gaan. Mense wat seer gemaak is in een of ander verhouding en nie weer daardie seer wil ervaar nie en eerder alleen bly. Of as jy ’n geliefde verloor het en nie weet hoe om dit te verwerk nie. Of wanneer jy oud word en omstandighede jou dwing om in ’n ouetehuis in te trek.

As mens regtig wil weet hoe mense op eensaamheid reageer, besoek gerus ’n ouetehuis. Daar word doelloos rondgesit en mense staar voor hulle uit. Niks kan hulle meer oorreed om ’n boek te lees of selfs radio te luister nie. Hulle het opgegee want baie van hulle weet nie hoe om wat hulle as verwerping ervaar te verwerk nie.

Luister gerus na die woorde van Koos du Plessis. Ek dink dit vat die gevoel van eensaamheid saam.

As almal ver is

As almal ver is
Word die hart skielik oud
As die wêreld ’n ster is
Afsydig en koud
Smee die gordyne
’n Komplot teen die lig
Krimp die kosyne
En deure sluit dig

As almal ver is, vind jy jouself
Waar jy in laaie, in stil hartkamers delf
As almal ver is, vind jy jou siel –
Weerloos, en eensaam, soos ’n vrou voor ‘n spieël

As daar geeneen is,
Sit jy als op die skaal
Want jy weet, wat geleen is,
Word eindelik gehaal.
Dan kom die waarheid
En besweer elke leuen
Skenk jou weer klaarheid – En laat jou alleen

 

This entry was posted in Depressie, Familie, Oudword and tagged , , , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Eensaamheid

  1. Oulik geskryf! Ja, eensaamheid bevat sy eie seer.

  2. ddupl3ss1s sê:

    My ma het altyd vir my met elke besoek by ouetehuis genoem, “wees tog bly dat jul ‘n werkie het , dat jul iets kan doen, ek wens ek kan opstaan en afstof” besig te bly verjaag ook inherente eensaamheid. Dankie vir jou skrywe , mens ek is wragtag bly jy’s terug!!

  3. Hester Bezuidenhout sê:

    Hi

    Watse oulike idees is daar vir n ooievaar ek het reeds my dogter se 1ste ooievaar gehou baie baie oulik gewees maar nou verwag sy 2de baba en wil iets anders doen as die eerste een weet nog ni of dit n seun of dogter is nie

    Groete

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s